Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:20-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.

21. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.So is Juda dan uit sy land weggevoer.

22. Oor die mense wat in Juda oor was, dié wat deur koning Nebukadnesar van Babel toegelaat is om daar te bly, het hy vir Gedalja, seun van Agikam seun van Safan, aangestel.

23. Toe die leëraanvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Die aanvoerders was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja uit Maäka.

24. Gedalja het hulle en hulle manne met 'n eed verseker: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”

25. Maar in die sewende maand het Ismael seun van Netanja, seun van Elisama uit die koninklike familie, met tien manne by hom 'n aanslag gemaak op Gedalja en 'n klompie Judeërs en Galdeërs wat by hom in Mispa was, en hulle vermoor.

26. Daarna het almal, klein en groot, saam met die leëraanvoerders na Egipte toe gevlug uit vrees vir die Galdeërs.

27. In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die sewe en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.

28. So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.

29. Jojagin kon sy gevangenisklere uittrek en het so lank as hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet.

30. Hy het van die koning 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes so lank as hy gelewe het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25