Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.”

10. Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

11. Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur

12. en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning:

13. “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.”

14. Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel,

15. en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:

16. So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het,

17. want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie.

18-19. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here.

20. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 22