Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21:11-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. “Omdat koning Manasse van Juda hierdie afskuwelike dinge gedoen het en erger aangegaan het as al die Amoriete voor sy tyd, en hy ook vir Juda laat sondig het met sy stinkende afgode,

12. daarom, so sê die Here die God van Israel: Ek gaan nou rampe bring oor Jerusalem en Juda wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.

13. Ek gaan Jerusalem met dieselfde maat meet as dié waarmee Ek Samaria en die koningshuis van Agab gemeet het; Ek gaan Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dan omkeer.

14. Wat oor is van die volk wat aan My behoort, gaan Ek verwerp en hulle oorgee in die mag van hulle vyande. Hulle sal deur al hulle vyande geplunder en uitgeroei word.

15. Dit sal gebeur omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My uitgetart het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe.”

16. Behalwe die sonde wat Manasse Juda laat doen het, wat verkeerd was in die oë van die Here, het Manasse ook nog baie onskuldige mense laat doodmaak. Jerusalem was van hoek tot kant vol bloed.

17. Die ander verhale oor Manasse en alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 21