Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!”

10. Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11. Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in.

12. Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur.

13. Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan.

14. Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

15. Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.

16. Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op 'n berg of in 'n vallei neergelaat.”Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”

17. Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie.

18. Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”

19. Die inwoners van die stad het vir Elisa gesê: “U sien self hoe mooi ons stad geleë is, maar die water is giftig en die oes uit die grond veroorsaak misgeboortes.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2