Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in.

12. Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur.

13. Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan.

14. Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

15. Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.

16. Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op 'n berg of in 'n vallei neergelaat.”Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”

17. Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie.

18. Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”

19. Die inwoners van die stad het vir Elisa gesê: “U sien self hoe mooi ons stad geleë is, maar die water is giftig en die oes uit die grond veroorsaak misgeboortes.”

20. Elisa sê toe: “Bring vir my 'n nuwe skottel en gooi sout daarin.” Hulle het dit na hom toe gevat.

21. Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.”

22. Die water is vandag nog bruikbaar, net soos Elisa gesê het.

23. Elisa is daarvandaan op na Bet-El toe. Terwyl hy op pad was daarnatoe, het 'n klomp klein seuntjies uit die stad gekom en hom gespot: “Hoër op, kaalkop! Hoër op, kaalkop!”

24. Hy het omgedraai, hulle aangekyk en hulle vervloek in die Naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee en veertig van die kinders verskeur.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2