Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:34-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

34. Tot vandag toe handhaaf hulle hulle vroeëre gebruike: hulle handel nie presies volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat die Here opgedra het aan die kinders van Jakob nie, dié Jakob aan wie Hy die naam Israel gegee het.

35. Dit was met hulle dat die Here 'n verbond gesluit het, vir wie Hy beveel het: “Moenie ander gode vereer nie, moenie voor hulle buig nie, moet hulle nie dien of offers vir hulle bring nie.

36. Nee, net die Here wat julle uit Egipte laat trek het deur sy groot mag en krag, moet julle vereer; voor Hom moet julle buig en vir Hom offers bring.

37. Julle moet altyd lewe volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het. Moenie ander gode dien nie.

38. Die verbond wat Hy met julle gesluit het, moet julle nie verontagsaam nie. Moenie ander gode dien nie.

39. Julle moet net die Here julle God dien. Hy sal julle red uit die mag van al julle vyande.”

40. Maar hulle was ongehoorsaam: hulle het hulle vroeëre gebruike gehandhaaf.

41. Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar ook hulle eie afgodsbeelde gedien, en tot vandag toe nog volg ook hulle kinders en kleinkinders hulle voorbeeld.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17