Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 16:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die sewentiende regeringsjaar van Peka seun van Remalja het Agas seun van koning Jotam van Juda op die troon gekom.

2. Agas was twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God soos sy voorvader Dawid nie.

3. Hy het die pad geloop van die konings van Israel. Hy het selfs sy seun verbrand volgens die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is.

4. Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom.

5. Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie 'n geveg afdwing nie.

6. In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar.

7. Toe stuur Agas 'n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”

8. Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.

9. Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak.

10. Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas 'n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija 'n afbeelding en 'n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak.

11. Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 16