Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:23-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.”

24. Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.”

25. Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.”Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring,

26. die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi.

27. Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is.

28. So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg.

29. Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer.

30. Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

31. Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie.

32. In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien:

33. van die Jordaan af ooswaarts, die hele Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, van Aroër af aan die Arnonrivier, Gilead sowel as Basan.

34. Die ander verhale oor Jehu en alles wat hy gedoen het, al sy dapper dade, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

35. Jehu is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg.

36. Jehu het ag en twintig jaar in Samaria as koning oor Israel geregeer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10