Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 8:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer 'n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”

6. Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog 'n koning om oor ons te regeer.”Samuel het tot die Here gebid,

7. en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle.

8. Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien.

9. Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.”

10. Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het.

11. Hy het gesê: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop,

12. party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak;

13. julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak;

14. julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee;

15. van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy 'n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee;

16. julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik;

17. van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 8