Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 8:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het.

11. Hy het gesê: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop,

12. party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak;

13. julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak;

14. julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee;

15. van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy 'n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee;

16. julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik;

17. van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees.

18. “Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

19. Maar die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle het vir hom gesê: “Nee, daar moet tog maar 'n koning oor ons wees.

20. Ons wil ook soos al die nasies wees. Ons koning moet oor ons regeer; hy moet ons lei en ons oorloë voer.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 8