Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7:6-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.”Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.

7. Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne.

8. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.”

9. Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor.

10. Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan.

11. Die Israeliete het van Mispa af die Filistyne agtervolg en hulle verdryf tot onderkant Bet-Kar.

12. Samuel het toe 'n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.”

13. Die Filistyne is verslaan en het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die Here was teen die Filistyne so lank as Samuel geleef het.

14. Die stede wat die Filistyne van Israel afgevat het, is deur Israel herower, van Ekron af tot by Gat. Israel het sy gebied uit die mag van die Filistyne bevry.Verder was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.

15. Samuel was sy lewe lank 'n leier in Israel.

16. Hy het van tyd tot tyd rondgegaan, by Bet-El, Gilgal en Mispa. By al hierdie plekke het hy Israel se hofsake verhoor.

17. Daarna het hy weer na Rama toe teruggegaan waar sy huis was, en ook dáár het hy Israel se hofsake verhoor. Daar het hy ook 'n altaar vir die Here gebou.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 7