Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die mense van Kirjat-Jearim het toe gekom. Hulle het die ark van die Here gaan haal en dit na die huis van Abinadab op die heuwel gebring. Hulle het sy seun Eleasar gewy om die ark van die Here op te pas.

2. Vandat die ark in Kirjat-Jearim 'n staanplek gekry het, het daar 'n lang tyd verloop, twintig jaar. Toe het al die Israeliete by die Here gekla oor hulle verdrukking,

3. en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.”

4. Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien.

5. Toe sê Samuel: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6. Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.”Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.

7. Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne.

8. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.”

9. Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor.

10. Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 7