Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie.

5. Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer.

6. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.

7. Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.

8. Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?”Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.”

9. Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het.

10. Dawid self en vier honderd man het die agtervolging voortgesit, en twee honderd man wat te moeg was om Besorspruit deur te gaan, het agtergebly.

11. Hulle het 'n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het hom kos gegee, en nadat hy geëet het, het hulle hom water laat drink.

12. Toe gee hulle hom 'n stukkie gedroogde vye en twee trossies rosyntjies en nadat hy dit geëet het, het hy weer reggekom, want hy het drie dae en nagte nie kos geëet of water gedrink nie.

13. Dawid het hom gevra: “By wie is jy en waar kom jy vandaan?”En hy antwoord: “Ek is 'n Egiptenaar, 'n slaaf van 'n Amalekiet, en my eienaar het my drie dae gelede agtergelaat, want ek het te swak geword.

14. Ons het 'n strooptog onderneem in die Filistynse Suidland wat aan Juda behoort, en in die Suidland van Kaleb en ons het Siklag afgebrand.”

15. Dawid vra toe vir hom: “Sal jy ons na hierdie bende toe lei?”Maar hy sê: “Lê tog vir my 'n eed af in die Naam van God dat u my nie sal doodmaak of sal uitlewer in die hand van my eienaar nie, en ek sal u na hierdie bende toe lei.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30