Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:18-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Dawid het almal wat deur Amalek gevat is, gered; hy het ook sy twee vrouens gered.

19. Daar is niemand, groot of klein, seun of dogter, vermis nie, en ook niks van alles wat deur die Amalekiete gebuit is nie. Dawid het alles teruggebring.

20. Hy het ook al die skape en beeste teruggevat. Sy mense het die goed voor hom uitgedrywe en hulle het gesê: “Dis Dawid se buit.”

21. Toe Dawid aankom na die twee honderd man toe wat te moeg was om agter hom aan te gaan en wat hy by Besorspruit laat bly het, het hulle vir Dawid en sy manne tegemoet gegaan. Dawid het nader gekom na die manne toe en gevra hoe dit met hulle gaan.

22. Al die slegte en nikswerd manne uit die groep wat saam met Dawid gegaan het, het opgemerk: “Omdat hulle nie saam gegaan het nie, gee ons nie vir hulle van die buit wat deur ons gered is nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat en loop.”

23. Maar Dawid het gesê: “My broers, julle mag nie so maak nie. Wat het die Here nie alles vir ons gegee nie? Hy het ons bewaar en die bende wat teen ons gekom het, in ons mag oorgegee.

24. Wie sal na julle en na hierdie voorstel luister? Nee, soos die aandeel van dié wat gaan veg, is die aandeel van dié wat by die goed agterbly: hulle deel gelykop.”

25. So het dit van toe af gebeur. Hy het dit as voorskrif en bepaling vir Israel vasgestel tot nou toe.

26. Toe Dawid in Siklag aangekom het, het hy van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, toe gestuur met die boodskap: “Dit is vir julle 'n geskenk uit die buit van die vyande van die Here.”

27. Dit was vir die leiers van Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir,

28. Aroër, Sifmot, Estemoa,

29. Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete,

30. Gorma, Bor-Asan, Atak,

31. Hebron en oral waar Dawid en sy manne heen en weer getrek het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30