Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar 'n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand.

2. Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan.

3. Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer.

4. Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie.

5. Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer.

6. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.

7. Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.

8. Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?”Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.”

9. Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het.

10. Dawid self en vier honderd man het die agtervolging voortgesit, en twee honderd man wat te moeg was om Besorspruit deur te gaan, het agtergebly.

11. Hulle het 'n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het hom kos gegee, en nadat hy geëet het, het hulle hom water laat drink.

12. Toe gee hulle hom 'n stukkie gedroogde vye en twee trossies rosyntjies en nadat hy dit geëet het, het hy weer reggekom, want hy het drie dae en nagte nie kos geëet of water gedrink nie.

13. Dawid het hom gevra: “By wie is jy en waar kom jy vandaan?”En hy antwoord: “Ek is 'n Egiptenaar, 'n slaaf van 'n Amalekiet, en my eienaar het my drie dae gelede agtergelaat, want ek het te swak geword.

14. Ons het 'n strooptog onderneem in die Filistynse Suidland wat aan Juda behoort, en in die Suidland van Kaleb en ons het Siklag afgebrand.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30