Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Dawid het na die manskappe van Saul en na Abner seun van Ner geroep: “Abner, antwoord jy dan nie?”En Abner het geantwoord: “Wie is jy wat na die koning roep?”

15. Toe sê Dawid vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? Wie is soos jy in Israel? Waarom het jy nie wag gestaan by jou koning nie? Daar het een van die volk gekom om die koning dood te maak.

16. Wat jy gedoen het, is nie goed nie. So seker as die Here leef, julle moet eintlik dood wees omdat julle nie by julle koning, die gesalfde van die Here, wag gestaan het nie. Kyk net 'n bietjie! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy koppenent was?”

17. Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”Dawid het gesê: “Dit is, U Majesteit!”

18. Hy het verder gevra: “Waarom agtervolg die koning tog sy onderdaan? Wat het ek gedoen wat verkeerd is?

19. Maar nou moet die koning tog na my luister. As dit die Here is wat u teen my aanhits, bring dan vir Hom 'n offer. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my nou uitgedryf sodat ek voel asof ek nie meer aan die volk van die Here behoort nie. Hulle het gesê: ‘Gaan dien vreemde gode.’

20. Laat my bloed tog nie ver van die heiligdom af op die grond val nie. Waarlik, die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek soos 'n mens 'n patrys in die berge agtervolg.”

21. Maar Saul het gesê: “Ek het 'n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en 'n growwe fout gemaak.”

22. Toe sê Dawid: “Hier is die koning se spies. Laat een van u manskappe tog oorkom en dit kom haal.

23. Mag die Here elkeen volgens sy geregtigheid en trou beloon, want die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie.

24. En kyk, mag die Here my lewe net so spaar soos ek vandag u lewe gespaar het, en mag Hy my uit elke benoudheid red.”

25. Saul het vir Dawid gesê: “Mag dit goed gaan met jou, my seun, Dawid. Jy sal van krag tot krag gaan en beslis ook die oorhand kry.”Daarna het Dawid sy koers ingeslaan, en Saul het omgedraai huis toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26