Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het Siffiete by Saul in Gibea gekom en gesê: “Dawid kruip weg op die Gakilarant teenoor die onherbergsame streek.”

2. Saul het toe klaargemaak en na die Sifwoestyn toe gegaan. Saam met hom was daar drie afdelings, uitgesoektes uit Israel, om Dawid in die Sifwoestyn op te spoor.

3. Saul het kamp opgeslaan langs die pad op die Gakilarant, wat teenoor die onherbergsame gebied is. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy hoor dat Saul tot in die woestyn agter hom aankom,

4. het Dawid spioene uitgestuur en so het hy sekerheid gekry dat Saul na hom toe op pad was.

5. Toe het Dawid klaargemaak en by die plek gekom waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, gelê en slaap het. Saul het op die wa gelê en die manskappe rondom hom.

6. En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?”Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.”

7. Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap.

8. Abisai het vir Dawid gesê: “God het jou vyand nou in jou mag oorgegee. Laat ek hom nou sommer hier met die spies in die grond vassteek. Ek sal hom nie 'n tweede keer hoef te steek nie.”

9. Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?”

10. Dawid het ook gesê: “So seker as die Here leef, die Here sal hom met 'n vroeë dood tref, of sy tyd sal aanbreek en hy sal sterwe, of hy sal gaan oorlog maak en hy sal omkom.

11. Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26