Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:18-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.

19. Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.”Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie.

20. Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom.

21. Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed.

22. Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly.

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom

24. en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde.

25. Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie.

26. Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek.

27. Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg.

28. Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie.

29. En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel.

30. Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het,

31. mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”

32. Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet.

33. Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem.

34. Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”

35. Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.”

36. Toe Abigajil by Nabal kom, het hy in sy huis 'n feesmaal gehad soos 'n koning. Nabal was opgeruimd en baie dronk. Voor die oggend met ligdag het sy hom hoegenaamd niks vertel nie.

37. Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy 'n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25