Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:10-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af.

11. Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”

12. Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel.

13. Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het.

14. Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar.

15. Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie.

16. Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het.

17. Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.”

18. Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.

19. Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.”Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie.

20. Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom.

21. Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed.

22. Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly.

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom

24. en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde.

25. Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie.

26. Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek.

27. Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25