Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’

12. My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem.

13. Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie.

14. Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:“ ‘Boosheid gaan uit van die boosdoeners,’“maar ek sal nie teen u wees nie.

15. Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter 'n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan!

16. Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig en aan my reg verskaf teenoor u.”

17. Nadat Dawid dit alles vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”Toe begin Saul hard huil

18. en hy sê vir Dawid: “Jy is 'n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen.

19. Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie.

20. Sal iemand sy vyand ongedeerd sy koers laat gaan as hy hom raakloop? Mag die Here jou met weldade beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het.

21. En nou, ek weet jy sal koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand bestendig wees.

22. Lê dan nou in die Naam van die Here 'n eed af dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en so in my familie aan my naam 'n einde sal maak nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24