Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Op 'n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.”

2. Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?”Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.”

3. Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?”

4. Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.”

5. Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in 'n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.

6. Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het hy die skouerkleed saamgevat.

7. Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in 'n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.”

8. Saul het al die manskappe opgekommandeer vir die oorlog, om op te trek na Keïla toe en Dawid en sy manne te beleër.

9. Maar Dawid het te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.”

10. Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is.

11. Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.”En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.”

12. Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?”Die Here het hom geantwoord: “Ja.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23