Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 22:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis.

15. Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”

16. Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”

17. Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.”Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.

18. Toe sê die koning vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.”Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.

19. Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee.

20. Maar een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug.

21. Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het.

22. Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel.

23. Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 22