Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:13-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Mag die Here my om die lewe bring as my pa besluit het om jou dood te maak en ek jou dit nie in die oor fluister nie en jou nie kans gee om veilig weg te kom nie. Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was.

14. En as ek dan nog lewe, moet jy die trou van die Here aan my betoon, sodat ek nie sterwe nie,

15. en jy moet jou trou nooit aan my familie onttrek nie. Selfs wanneer die Here die vyande van Dawid een vir een van die aarde af wegvee,

16. mag Jonatan nie deur die familie van Dawid uitgeroei word nie, want dan sal die Here dit vergeld deur Dawid se vyande.”

17. Jonatan het Dawid dit met 'n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself.

18. Jonatan het ook nog vir hom gesê: “Môre is nuwemaan, en jy sal gemis word omdat jou leë sitplek opgemerk sal word.

19. Op die derde dag moet jy beslis na die plek toe kom waar jy die vorige keer op die werkdag weggekruip het. Jy moet langs die hoop klippe gaan sit.

20. Ek sal drie pyle aan die kant daarvan verby skiet, asof ek na 'n teiken skiet.

21. Dan sal ek my slaaf stuur: ‘Gaan soek die pyle.’ As ek uitdruklik vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is duskant jou; tel hulle op en kom!’ is jy veilig en so seker as die Here leef, daar is dan geen gevaar nie.

22. Maar as ek vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is anderkant jou!’ moet jy weggaan. Dan stuur die Here jou weg.

23. En wat die saak betref waaroor ek en jy gepraat het: onthou, die Here is vir altyd getuie daarvan.”

24. Dawid het toe in die veld weggekruip. Met nuwemaan het die koning by die maaltyd aangesit,

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20