Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u.

5. Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?”

6. Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.”

7. Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen.

8. Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug.

9. Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom,

10. het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap.

11. Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.”

12. Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap.

13. Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak.

14. Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19