Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:25-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. 'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan — die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26. Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27. Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28. Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29. Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”

30. Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

31. Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.

32. “'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

33. Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.”

34. Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde,

35. gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood.

36. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.”

37. Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”

38. Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek,

39. en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.”En Dawid het dit uitgetrek.

40. Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.

41. Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17