Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:35-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou.

36. Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot môre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.”Die manskappe sê toe: “Maak soos u goedvind.”Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!”

37. Toe het Saul vir God gevra: “Moet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?”Maar God het hom nie toe geantwoord nie.

38. Saul sê toe vir al die offisiere: “Kom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het.

39. Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.”Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie.

40. Toe sê hy vir die hele Israel: “Julle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.”En die manskappe sê vir Saul: “Maak soos u goedvind.”

41. Saul het vir die Here gevra: “God van Israel, gee tog 'n beslissing.”Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef.

42. Toe sê Saul: “Julle moet loot tussen my en my seun Jonatan.”Jonatan is aangewys,

43. en Saul het vir hom gesê: “Vertel my tog wat jy gedoen het.”Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesê: “Ek het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14