Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond.

15. Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.

16. Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal,

17. het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.”Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie.

18. Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete.

19. Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!”

20. Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring.

21. Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was.

22. Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit.

23. Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan.

24. Elke Israeliet het daardie dag kom veg.Saul het die manskappe 'n eed opgelê en gesê: “'n Ramp tref dié een wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.”Nie een van die manskappe het aan iets geproe nie.

25. Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning.

26. Toe die manskappe in die bos kom, het dit sommerso gedrup van die heuning en tog het niemand sy mond aan iets gesit nie, want die manskappe was bang vir die eed wat hulle opgelê is.

27. Jonatan het egter nie gehoor toe sy pa die leër die eed opgelê het nie. Hy het die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. Dit het hom nuwe krag gegee.

28. Een van die manskappe sê toe vir hom: “Jou pa het die manskappe 'n streng eed opgelê en gesê: ‘'n Ramp tref dié een wat vandag iets eet.’ Daarom is die manskappe nou uitgeput.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14