Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.”

11. Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.”

12. En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.”Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.”

13. Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke.Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak.

14. In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond.

15. Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.

16. Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal,

17. het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.”Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie.

18. Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete.

19. Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!”

20. Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring.

21. Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14