Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 7:20-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Die seun van Efraim was Sutelag, dié se seun Bered, dié se seun Tagat, sý seun Elada, sý seun Tagat,

21. sý seun Sabad en sý seun Sutelag. Daar was ook nog Eser en Elad, maar hulle is deur die mense van Gat wat van geboorte af in die Efraimitiese gebied was, doodgemaak. Dit het gebeur toe hulle die mense van Gat se vee gaan steel het.

22. Eser en Elad se vader Efraim het lank oor hulle getreur, maar sy broers het hom kom troos.

23. Toe hy daarna met sy vrou gemeenskap gehad het, het sy swanger geword en 'n seun gekry. Hy het hom Beria genoem, omdat dit gebeur het toe daar 'n swaar tyd in sy huis was.

24. Sy dogter was Seëra. Sy het Bet-Goron-Onder en Bet-Goron-Bo gebou, en ook Ussen-Seëra.

25. Beria se seuns was Refag en Resef. Resef se seun was Telag, en sý seun Tagan.

26. Sý seun was Ladan, sý seun Ammihud, sý seun Elisama,

27. sý seun Nun en sý seun Josua.

28. Die gebied wat hulle besit en bewoon het, was Bet-El met die dorpies rondom hom, na die ooste toe Naära, na die weste toe Geser met die dorpies rondom hom, en verder Sigem met die dorpies rondom hom tot by Aja met sy dorpies.

29. In besit van Manasse was Bet-San, Taänak, Megiddo en Dor, elkeen met sy dorpies. In dié plekke het die nageslag van Josef seun van Israel gewoon.

30. Die seuns van Aser was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria. Hulle suster was Serag.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 7