Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:15-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby.

16. Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.

17. Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring.

18. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U.

19. Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.”

20. Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.

21. Die volgende dag het hulle aan die Here as brand- en ander diereoffers duisend bulle, duisend ramme en duisend lammers geoffer, saam met die drankoffers wat daarby hoort. Daar was ook nog 'n menigte offers van die hele Israel.

22. Hulle het daardie dag met uitbundige vreugde geëet en gedrink voor die Here. Vir die tweede keer het hulle ook vir Salomo seun van Dawid tot koning verklaar. Hulle het hom voor die Here tot koning gesalf en vir Sadok as priester.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29