Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Toe sê Joab: “Selfs al sou die Here by sy volk honderd keer soveel byvoeg as wat hulle nou is, sal u mos nog koning wees! Hulle is mos almal u onderdane. Waarom wil u dit doen, U Majesteit? Waarom moet dit nou 'n sondelas op Israel word?”

4. Maar die koning se bevel aan Joab het bly staan. Joab het vertrek, die hele Israel deurgegaan en na Jerusalem toe teruggekom,

5. waar hy die resultaat van die volkstelling aan Dawid oorhandig het. Israel was in totaal een miljoen een honderd duisend weerbare man en Juda vier honderd en sewentig duisend.

6. Die Leviete en die Benjaminiete het hy nie bygereken nie, want die bevel van die koning het vir Joab 'n gruwel gebly.

7. In die oë van God was die saak verkeerd en Hy het Israel dan ook daaroor swaar gestraf.

8. Dawid het teenoor God bely: “Ek het swaar gesondig toe ek hierdie ding gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.”

9. Die Here sê toe vir Gad, die siener van Dawid:

10. “Gaan sê vir Dawid: So sê die Here: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.”

11. Gad het toe na Dawid toe gegaan en vir hom gesê: “So sê die Here: Kies

12. drie jaar hongersnood, of om drie maande lank op die vlug te bly voor jou teenstanders en deur die swaard van jou vyand agterhaal te word, of drie dae waarin die swaard van die Here self en die pes in die land is en die engel van die Here dwarsoor die Israelitiese gebied verderf saai. Besluit nou watter antwoord ek moet terugbring aan Hom wat my gestuur het.”

13. Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21