Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 18:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Hierna het Dawid die Filistyne verslaan en onderwerp. Hy het Gat en sy buitedorpe afgeneem van die Filistyne.

2. Hy het ook die Moabiete verslaan, sodat Moab aan Dawid onderhorig geword het en aan hom belasting moes betaal.

3. Toe Dawid sy mag aan die Eufraat gaan herstel het, het hy vir koning Hadad-Eser van Soba in die rigting van Hamat verslaan.

4. Van hom het Dawid 'n duisend strydwaens, sewe duisend oorlogsperde en twintig duisend voetsoldate afgevat. Hy het perde vir honderd strydwaens uitgehou en al die ander se hakskeensenings afgesny.

5. Die Arameërs van Damaskus het vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het twee en twintig duisend man van Aram verslaan.

6. Hy het militêre poste in die gebied Aram-Damaskus ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.

7. Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgevat en dit na Jerusalem toe gebring.

8. In Tibgat en Kun, twee stede van Hadad-Eser, het hy op 'n groot hoeveelheid brons beslag gelê. Daarvan het Salomo die bronswaterbak, pilare en bronsware gemaak.

9. Toe koning Toï van Hamat verneem dat Dawid die hele leër van koning Hadad-Eser van Soba verslaan het,

10. het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur. Hy moes hom sy groete oorbring en hom gelukwens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het kort-kort vir Toï aangeval. Hy het allerlei artikels van goud, silwer en brons saamgestuur.

11. Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud wat hy van al die nasies weggevoer het, van Edom, Moab, die Ammoniete, die Filistyne en Amalek.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 18