Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 12:16-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe daar van die Benjaminiete en Judeërs na Dawid toe gekom het in die bergskuiling,

17. het hy na hulle toe uitgekom en geroep: “As julle in vrede na my toe gekom het om my te help, is ons bondgenote en is ek bereid om julle leier te wees, maar as julle gekom het om my aan my vyande te verraai, terwyl ek geen misdaad begaan het nie, mag die God van ons voorvaders dit dan raaksien en julle straf.”

18. Daarna het die Gees vir Amasai, die leier van die dertig, in besit geneem, en hy het gesê:“Vír u, Dawid!Bý u, seun van Isai!Vrede, vrede vir u,en vrede vir hom wat by u staan,want u God help u!”Dawid het hulle toe aanvaar en hulle opgeneem onder die leiers van sy bende.

19. Uit Manasse het mense na Dawid toe oorgeloop toe hy saam met die Filistyne op die veldtog teen Saul uitgetrek het. Hy het egter nie die Filistyne gehelp nie, want hulle regeerders het hom doelbewus weggestuur. Hulle het gesê: “Hy sal na sy koning Saul toe oorloop met ons koppe.”

20. Dawid is toe na Siklag toe en daar het die volgende mense uit Manasse na hom toe oorgeloop: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, leiers van afdelings in Manasse.

21. Hulle het Dawid gehelp en het aanvoerders van sy bende geword, want hulle was almal strydbare manne.

22. Daar het van dag tot dag mense by Dawid aangekom om hom te help, totdat dit 'n groot leër geword het, 'n magtige leër.

23. Hier volg die getalle van die hoofmanne van die gewapende mag wat in Hebron na Dawid toe gekom het om die koningskap van Saul op hom oor te dra volgens die wil van die Here:

24. Judeërs, gewapen met grootskild en spies: 6 800, ten volle gewapen;

25. van die Simeoniete, strydbare manne gereed vir aktiewe diens: 7 100;

26. van die Leviete: 4 600;

27. ook nog Jojada, die Aäronitiese vors met 3 700 man by hom,

28. en die jong Sadok, 'n strydbare man, met sy familie onder 22 aanvoerders;

29. van die Benjaminiete, Saul se stamgenote: 3 000. Tot in dié stadium het die meeste van hulle trou gebly aan die huis van Saul.

30. Van die Efraimiete was daar 20 800, almal strydbare manne, gesiene mense in hulle families;

31. van die halwe Manassestam: 18 000 wat afgevaardig was om Dawid te kom koning maak;

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 12