Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:20-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer.

21. Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.”

22. Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!”En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!”So het hulle voor die koning gestaan en stry.

23. Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.”

24. Toe beveel die koning: “Bring vir my 'n swaard!”Hulle het die swaard gebring,

25. en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!”

26. Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.”Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!”

27. Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!”

28. Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3