Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Toe sê Agab vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir sy majesteit die koning: Alles wat u die eerste keer geëis het, sal ek gee, maar aan hierdie nuwe eis kan ek nie toegee nie.”Die boodskappers het die antwoord vir Ben-Hadad gebring,

10. en hy het terug laat weet: “Mag my gode my om die lewe bring as ek nie soveel manskappe met my saambring dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie.”

11. Daarop het die koning van Israel opgemerk: “Die spreekwoord lui: Hy wat hom klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat klaar die oorwinning behaal het nie.”

12. Toe Ben-Hadad dít hoor, was hy besig om saam met die ander konings in die tente te drink en hy sê vir sy offisiere: “Val aan!” en hulle het klaargemaak vir die aanval op die stad.

13. 'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

14. Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.”Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”

15. Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man.

16. Dit was middag toe hulle uit die stad uitgaan, en Ben-Hadad was aan die drink in die tent, hy en die twee en dertig konings wat hom kom help het.

17. Die jong soldate van die distrikshoofde het aan die voorpunt opgeruk, en daar is vir Ben-Hadad gesê: “Daar kom manskappe uit Samaria uit.”

18. Hy sê toe: “Of hulle vrede soek of oorlog, vang hulle lewendig!”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20