Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die boodskappers het toe weer na Agab toe gekom en gesê: “So sê Ben-Hadad: Ek het jou die boodskap gestuur dat jy jou silwer en goud, jou vrouens en kinders vir my moet gee.

6. Nou ja, ek stuur môre my amptenare na jou toe. Hulle sal jou paleis en die huise van jou onderdane deursoek, en hulle sal beslag lê op alles wat hulle oë begeer en dit vir hulle vat.”

7. Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar, en sê: “Kyk nou net! Hierdie man soek moeilikheid. Toe hy my vrouens en kinders en my silwer en goud geëis het, het ek nie geweier nie.”

8. Al die leiers en die hele volk het gesê: “U moet nie nou gehoor gee nie. U mag nie inwillig nie!”

9. Toe sê Agab vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir sy majesteit die koning: Alles wat u die eerste keer geëis het, sal ek gee, maar aan hierdie nuwe eis kan ek nie toegee nie.”Die boodskappers het die antwoord vir Ben-Hadad gebring,

10. en hy het terug laat weet: “Mag my gode my om die lewe bring as ek nie soveel manskappe met my saambring dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie.”

11. Daarop het die koning van Israel opgemerk: “Die spreekwoord lui: Hy wat hom klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat klaar die oorwinning behaal het nie.”

12. Toe Ben-Hadad dít hoor, was hy besig om saam met die ander konings in die tente te drink en hy sê vir sy offisiere: “Val aan!” en hulle het klaargemaak vir die aanval op die stad.

13. 'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

14. Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.”Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”

15. Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20