Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:29-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Sewe dae lank het die leërs so teenoor mekaar gelê. Op die sewende dag het die geveg losgebreek, en die Israeliete het honderd duisend voetsoldate van die Arameërs op dié een dag verslaan.

30. Die res het die stad Afek in gevlug en die stadsmuur het op hulle omgeval. Hulle was sewe en twintig duisend man.Ben-Hadad het ook die stad in gevlug en daar van kamer tot kamer weggekruip.

31. Sy soldate sê toe vir hom: “Ons het gehoor die Israelitiese konings is genadig. Kom ons trek rouklere aan en bind toue om ons koppe en gee ons oor aan die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.”

32. Hulle trek toe rouklere aan en bind toue om hulle koppe en lewer hulleself uit aan die koning van Israel.“Ben-Hadad onderwerp hom aan u,” sê hulle, “en hy vra dat u sy lewe moet spaar.”Toe sê Agab: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33. Die manne het dit as 'n gunstige teken opgevat en haastig by sy opmerking aangesluit deur te sê: “Ben-Hadad ís u broer.”Agab sê toe: “Gaan haal hom!”Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab hom by hom op die strydwa laat klim.

34. Daar het Ben-Hadad vir hom gesê: “Die stede wat my pa van jou pa afgevat het, sal ek teruggee. Jy mag ook vir jou 'n handelsbuurt inrig in Damaskus soos my pa in Samaria gedoen het.”“En ek sal jou laat gaan,” sê koning Agab, “nadat jy 'n verdrag met my gesluit het.”Ben-Hadad het toe 'n verdrag met hom gesluit, en Agab het hom laat gaan.

35. 'n Profeet het in opdrag van die Here vir 'n vriend gesê: “Slaan my tog!”Maar hy het geweier om hom te slaan.

36. Toe sê die profeet vir hom: “Jy was ongehoorsaam aan die opdrag van die Here, en daarom sal 'n leeu jou verskeur wanneer jy van my af weggaan.”Toe hy van hom af weggegaan het, het 'n leeu op hom afgekom en hom verskeur.

37. Die profeet kry toe iemand anders en sê: “Slaan my tog.”Hy het die profeet geslaan; hy het hom selfs stukkend geslaan.

38. Die profeet het die koning by die pad gaan staan en inwag: die profeet was onherkenbaar, hy het 'n verband oor sy oë gehad.

39. Toe die koning daarlangs kom, het hy na die koning geroep en gesê: “Ek het oorlog toe gegaan. Daar het iemand 'n man na my toe gebring en gesê: ‘Pas hierdie man op! As hy ontsnap, kom jy in sy plek, of anders moet jy vier en dertig kilogram silwer betaal.’

40. Maar ek was met ander dinge besig en toe ek kyk, is hy nie meer daar nie!”Die koning van Israel sê toe vir hom: “Jy het jou eie vonnis gevel.”

41. Die profeet het die verband van sy oë afgeruk sodat die koning van Israel kon sien dat hy 'n profeet is.

42. Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here: Omdat jy die man wie se lewe Ek geëis het, vry laat weggaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe kom, en jou volk in die plek van sy volk.”

43. Toe het die koning van Israel bedruk en kwaad huis toe vertrek en in Samaria aangekom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20