Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. U moet só maak: onthef al die konings van hulle verantwoordelikhede en stel goewerneurs in hulle plek aan.

25. Bring vir u self 'n leër op die been, net so sterk soos dié een wat verslaan is, met ruitery soos daardie en 'n strydwamag soos daardie. Dan pak ons hulle in die vlakte, en ons sal sterker wees as hulle.”Ben-Hadad het na hulle raad geluister en so gemaak.

26. Vroeg die volgende jaar het Ben-Hadad die Aramese leër laat bymekaarkom en na Afek toe opgetrek om teen Israel oorlog te maak.

27. Die Israeliete was goed toegerus en het die Arameërs tegemoet getrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle was soos twee troppe bokke, en die wêreld was vol Arameërs.

28. Die man van God het by die koning van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is 'n berggod, Hy is nie 'n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

29. Sewe dae lank het die leërs so teenoor mekaar gelê. Op die sewende dag het die geveg losgebreek, en die Israeliete het honderd duisend voetsoldate van die Arameërs op dié een dag verslaan.

30. Die res het die stad Afek in gevlug en die stadsmuur het op hulle omgeval. Hulle was sewe en twintig duisend man.Ben-Hadad het ook die stad in gevlug en daar van kamer tot kamer weggekruip.

31. Sy soldate sê toe vir hom: “Ons het gehoor die Israelitiese konings is genadig. Kom ons trek rouklere aan en bind toue om ons koppe en gee ons oor aan die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.”

32. Hulle trek toe rouklere aan en bind toue om hulle koppe en lewer hulleself uit aan die koning van Israel.“Ben-Hadad onderwerp hom aan u,” sê hulle, “en hy vra dat u sy lewe moet spaar.”Toe sê Agab: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33. Die manne het dit as 'n gunstige teken opgevat en haastig by sy opmerking aangesluit deur te sê: “Ben-Hadad ís u broer.”Agab sê toe: “Gaan haal hom!”Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab hom by hom op die strydwa laat klim.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20