Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:13-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. 'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

14. Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.”Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”

15. Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man.

16. Dit was middag toe hulle uit die stad uitgaan, en Ben-Hadad was aan die drink in die tent, hy en die twee en dertig konings wat hom kom help het.

17. Die jong soldate van die distrikshoofde het aan die voorpunt opgeruk, en daar is vir Ben-Hadad gesê: “Daar kom manskappe uit Samaria uit.”

18. Hy sê toe: “Of hulle vrede soek of oorlog, vang hulle lewendig!”

19. Intussen het die jong soldate van die distrikshoofde uit die stad getrek, en die leër agter hulle aan.

20. Elkeen het sy man verslaan. Die Arameërs het op die vlug geslaan, en die Israeliete het hulle agtervolg.Koning Ben-Hadad van Aram het te perd saam met 'n aantal ruiters weggekom.

21. Die koning van Israel het uit sy stad gekom en die ruitery en die strydwamag verslaan. So het hy vir Aram 'n groot slag toegedien.

22. Die profeet het weer by die koning van Israel gekom en vir hom gesê: “Gaan versterk u leër! Vra raad en dink goed na oor wat u doen, want vroeg volgende jaar val die koning van Aram u weer aan.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20