Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:2-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”

3. Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.

4. Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

5. Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

6. Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

7. Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

8. Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

9. Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

10. Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19