Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep.

17. Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër.

18. Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood.

19. Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.

20. Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

21. Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri.

22. Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.

23. In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.

24. Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg.

25. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers.

26. Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het.

27. Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

28. Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

29. Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer.

30. Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16