Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk en hulle tevrede stel en hulle 'n gunstige antwoord gee, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8. Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was:

9. “Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10. Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê:“My pinkie is dikker as my pa se middellyf.

11. My pa het 'n swaar juk op julle laat druk,ek gaan die juk nog swaarder maak.My pa het julle met swepe geslaan,ek sal julle met gesels slaan.”

12. Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”

13. het hy die volk dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan

14. en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne:“My pa het 'n swaar juk op julle gelê,ek gaan die juk nog swaarder maak;my pa het julle met swepe geslaan,ek sal julle met gesels slaan.”

15. Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.

16. Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê:“Dawid is nie deel van ons nie;ons het niks aan Isai se seun nie!Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!”Israel is toe terug na sy eie woongebied toe.

17. Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18. Koning Rehabeam het vir Adoniram wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug.

19. So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.

20. Toe die Israeliete verneem dat Jerobeam teruggekom het uit Egipte, het hulle hom na 'n volksvergadering toe laat kom en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand behalwe die Judastam het die koningshuis van Dawid aangehang nie.

21. Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen.

22. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê:

23. “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk:

24. So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!”Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12