Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 3:15-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.

16. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter.

17. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,

18. ontsag vir God het hulle nie.”

19. Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God.

20. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.

21. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

22. maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

23. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,

24. maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

25-26. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof.

28. Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.

29. Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies,

30. want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek.

31. Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.

Lees volledige hoofstuk Romeine 3