hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie

1. Het dit dan enige voordeel om 'n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut?

2. Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het.

3. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou?

4. Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens 'n leuenaar, soos daar geskrywe staan:“U is regverdig wanneer U uitspraak doenen U wen u saak wanneer U aangekla word.”

5. Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie?

6. Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel?

7. Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel?

8. Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.

Niemand is regverdig nie

9. Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is.

10. Daar staan immers geskrywe:“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,

11. daar is nie een wat verstandig is nie;daar is nie een wat na die wil van God vra nie.

12. “Almal het afgedwaal,almal het ontaard.Daar is nie een wat goed doen nie,selfs nie een nie.

13. “Hulle keel is 'n oop graf,met hulle tonge bedrieg hulle.Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange,

14. hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.

15. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.

16. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter.

17. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,

18. ontsag vir God het hulle nie.”

19. Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God.

20. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.

God verlos die mens

21. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

22. maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

23. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,

24. maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

25-26. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof.

28. Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.

29. Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies,

30. want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek.

31. Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.