hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word,

2. want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig.

3. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.

4. Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.

Die verlossing is vir elkeen wat glo

5. Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe.

6. Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring,

7. “of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring.

8. Nee, die Skrif sê:“Naby jou is die woord,in jou mond en in jou hart.”En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig:

9. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

10. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

11. Die Skrif sê tog:“Niemand wat in Hom glo,sal teleurgestel word nie.”

12. “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik,

13. want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14. Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

15. En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

16. Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?”

17. Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

18. Maar 'n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:“Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink,hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.”

19. Of 'n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê:“Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie 'n volk is nie,en julle kwaad maak oor 'n volk wat nie julle kennis het nie.”

20. En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God:“Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie,Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.”

21. Maar van Israel sê Hy:“Dag vir dag het Ek my handeuitgesteek na 'n ongehoorsame en weerspannige volk.”