Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 6:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13. en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

16. “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

17. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig

18. sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

19. “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.

20. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.

21. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

22. “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê.

23. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

24. “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 6