Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 6:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

2. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

3. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4. sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

5. “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

6. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

7. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.

8. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

9. “So moet julle bid:“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10. laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11. Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12. en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13. en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

16. “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

Lees volledige hoofstuk Matteus 6