Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:12-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14. Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

15. Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat.

16. In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17. Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?”

18. Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19. Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.”

20. Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21. Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”“Barabbas!” antwoord hulle.

22. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23. Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24. Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25. Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26. Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

27. Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27