Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:52-66 Afrikaans 1983 (AFR83)

52. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

53. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

54. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55. Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie.

56. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

57. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het.

58. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak.

60. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom

61. en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62. Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63. Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

64. Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:“Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”

65. Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor.

66. Wat dink julle?”Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26