Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:32-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby.

33. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.

34. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.

35. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

36. “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

37. Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.

38. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

39. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

40. Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

41. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

42. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie.

44. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 24